En In Ander Nuus: Episode 1
Een vir die Span
Lees die Teks!
Opnamedatum : 1 Maart 2023
Oplaaidatum : 8 Maart 2023
Teks & Regie : Maria Vos
ROLVERDELING:
1. Grethe (20, in-beheer, intelligent)
2. Jessica (18, vrolik, onervare)
3. Thomas (20, kalm, ernstig)
4. Melissa (20, energiek, impulsief)
5. Amanda (35, sarkasties, ondermynend)
6. Terrence (30, deur Thomas-akteur vertolk)
7. Cindy (20s, deur een van die ander vroue vertolk)
BYK : MUSIEK KRUISDOOF MET INTERIEUR VAN ’n STILLERIGE KAMPUSKOERANTKANTOOR, NAMIDDAG. THOMAS TIK DEURGAANS RUSTIG. GRETHE BEANTWOORD ’N LUIENDE LANDLYN.
1. GRETHE : Goeiemiddag, Kampusw— (BREEK AF) Nuwe Kampusweekblad, hoe kan ek help?
2. THOMAS : (SONDER OM OP TE HOU TIK) Jy moet regtig oefen om dit die eerste keer reg te sê, Grethe.
3. GRETHE : (AAN THOMAS) Sjjt, Thomas! (AAN PERSOON OP DIE LYN) Jammer, jammer; nie jy nie. Hoe kan ek help?
4. THOMAS : Ék gee nie om nie! Dis jý wat daarop aandring dat ons nou die Núwe Kampusweekblad is.
5. GRETHE : (AAN PERSOON OP DIE LYN) Ek sien. Nee, ek is bevrees jy’s nou by die studentekoerant. Studentesáke is nul-twee-nul-séwe. (LUISTER)
6. THOMAS : Het jy gedink die ‘nuwe’ gaan beteken ons kry nuwe rekenaars en stoele en goed? Worth a try. Hierdie Enter sit nou al vier maande lank vas.
7. GRETHE : [FOON] Glad nie, glad nie; dit gebeur gereeld. Lekker dag verder. (SIT GEHOORSTUK MET ’N SUG NEER.)
8. THOMAS : Toe nie ’n warm wenk nie?
9. GRETHE : (GEFRUSTREERD) Dit sou baie gaaf wees as iets net wou gebéúr. Ons gaan op hierdie stadium dalk regtig daai huisdansfoto op die voorblad moet sit.
10. THOMAS : Ons sit op ’n kampus met dertigduisend studente. Ek is seker iets sal opduik.
1. GRETHE : Vier ure voor saktyd? Ag, Thomas, is jy nie lus om gou iewers ’n bakleiery te begin nie? Of iets onbelangriks aan die brand te steek nie? Toe?
2. THOMAS : Ek moet bieg dat ek nog nooit ons etiekkode gelees het nie, maar ek kan jou waarborg só iets sou daarteen indruis.
3. GRETHE : Dis soms nogal irriterend om so ’n eerlike opinieskrywer op die redaksie te hê. No offense.
4. THOMAS : (MIN GEPLA) Ek verstaan.
BYK : KANTOORDEUR WORD HARD OOPGEMAAK. MELISSA BARS IN.
5. MELISSA : (UITASEM, BEWEEG OP MIK) Julle! Julle gaan dit nie glo nie, maar dis waar!
6. GRETHE : (SARKASTIES) Goed, dankie, en met jou, Melissa?
7. MELISSA : Daar’s nie tyd vir grappies nie! Onthou julle daai storie wat ek nou die dag gehoor het? Oor die wiskundeprofessor?
8. THOMAS : Die een wat geld gesteel het of die een wat haar studente om die blok laat draf het?
9. GRETHE : (HAASTIG) Na bewering geld gesteel het, Thomas. En die ander ding ook. Na bewering.
10. THOMAS : Jy’s skielik baie streng vir iemand wat twee minute gelede wou hê ek moet die gebou aan die brand steek.
11. MELISSA : (GEïRRITEERD) Wil julle twee die storie van die jaar hoor of nie?
12. GRETHE : Jy het ons volle aandag, Melissa.
13. MELISSA : Dankie. (HAAL DIEP ASEM) Dis die een wat die geld gesteel het.
14. GRETHE : Na beweri—
1. MELISSA : Na bewering die geld gesteel het. Maar dis beter as net diefstal; hy’t die helfte daarvan vir sy nagraadse assistent gegee.
2. THOMAS : Oeps.
3. MELISSA : Ja. Oeps.
4. GRETHE : Is sy assistent sy ...? (HANG)
5. MELISSA : Ja, presies.
6. THOMAS : Dis jou gelukkige dag, Grethe. Gooi solank daai huisdansfoto van die voorblad af.
7. GRETHE : Jy weet ons kan nie net vinnig ’n storie skryf en hoop niemand dagvaar ons nie.
8. MELISSA : Niemand gaan ons dagvaar as dit die waarheid is nie!
9. GRETHE : Jy’s so ’n liewe, onskuldige mens, MELISSA.
10. MELISSA : Nee, ek is jou nuusredakteur en ek gaan hierdie storie skryf.
11. GRETHE : Fantasties. En hoe beplan jy om dit te doen?
12. MELISSA : Op die gewone manier. Samel inligting in, voer ’n onderhoud met die betrokke partye ... (BREEK AF)
13. GRETHE : (MAAK ASOF SY OP TELEFOON PRAAT) Hallo, Professor? Is dit waar dat jy die geld wat jy na bewering gesteel het, vir jou beweerde skelmpie gegee het? (KAMMA-GESKOK) Hy’t die foon in my oor neergesit.
14. THOMAS : Ek kan nie verstaan hoekom jy nie uit jou vel uit spring nie, Grethe. Jou droom het waar geword! Iets het gebeur!
15. GRETHE : As jy die etiekkode gelees het, sou jy dalk (verstaan het wat die probleem is).
1. MELISSA : (ONDERBREEK GRETHE MET ’N HARDE GIL) Daai flippen ding is terug!
2. THOMAS : Wat!?
3. MELISSA : Daai spinnekop, man!
4. GRETHE : Is jy seker? Ek sien niks.
5. MELISSA : Hy’s onder daai lessenaar! Wag, gee daai boek!
1. THOMAS : Los my woordeboek! Dis in elk geval te swaar (om rond te swaai)!
2. MELISSA : (GRYP DIE BOEK) Gee hier! Ek deel nie ’n kantoor met daai ding nie!
3. GRETHE : MELISSA, jy gaan die rekenaar raakslaan!
4. MELISSA : (GEE ’N HOU MET DIE BOEK) Het hom!
5. THOMAS : Oukei, kan ek nou my boek terugkry, asseblief?
6. MELISSA : Met liefde. Dankie vir— (BREEK AF) Ek het hom gemis! Daar hardloop hy!
7. GRETHE : Uh, ek dink hy’s reguit na jou toe op pad.
8. MELISSA : Voetsek! (BEWEEG WEG VAN MIK) Ek kan nie so werk nie, Grethe!
BYK : MELISSA VERDWYN BY DIE BALKONDEUR UIT EN MAAK DIT HARD AGTER HAAR TOE.
9. THOMAS : (PRAAT HARD SODAT MELISSA HOM KAN HOOR) Jy kan nie vir ewig op die balkon wegkruip nie, Melissa!
10. MELISSA : (VAN AGTER BALKONDEUR) Ek kan nie regtig hoor wat jy sê nie, en ek gee ook nie om nie!
11. THOMAS : (AAN GRETHE) Dink jy ons moet vir haar ’n afspraak by kampusgesondheid maak?
12. GRETHE : Ag, sy hou maar net nie van spinnekoppe nie.
1. MELISSA : (ROEP HARD VAN AGTER BALKONDEUR) Julle, gee gou my notaboek aan, toe? Dis op my lessenaar.
2. THOMAS : (SUGTEND) Orraait, ek kom. (STAAN OP, TEL NOTABOEK OP EN LOOP NA DEUR.)
3. MELISSA : (VAN AGTER BALKONDEUR) Maak net die deur op ’n skrefie oop.
4. THOMAS : Ek belowe ek sien nie die spinnekop nie.
5. MELISSA : (DEURGAANS VAN AGTER BALKONDEUR) Ja, en dis wanneer hy op sy gevaarlikste is!
6. THOMAS : Oukei, oukei. Hier. (TREK AAN DEURHANDVATSEL.) Uhm.
7. MELISSA : (AGTERDOGTIG) Wat? Sien jy hom?
8. THOMAS : Nee, uhm, die deur ... (BEUR OM DEUR OOP TE KRY.) Die deur wil nie oop nie.
9. GRETHE : (EFFE WEG VAN MIK) Ag, nee.
10. MELISSA : Nie weer hierdie nonsens nie!
11. THOMAS : (DEURMEKAAR) Het dit al vantevore gebeur?
12. GRETHE : (EFFE WEG) Verlede week toe jy daai ekstra tutoriaal moes bywoon. Aanhoudend. Ons het gedink daai ou van Instandhouding het die probleem opgelos.
13. MELISSA : Die ding wil weer nie oop nie, Grethe!
14. GRETHE : (HARD) Jammer, Melissa. Ek mail hulle gou.
15. MELISSA : Wat? Nee, ek dink nie ’n naelvyl gaan help nie.
16. THOMAS : (BEWEEG TERUG NA LESSENAAR) Miskien moet ons aan ’n soort walkie-talkie-stelsel begin dink as iemand gereeld op die balkon gaan vassit.
BYK : KANTOORDEUR WORD OOPGEMAAK. JESSICA KOM BINNE.
1. JESSICA : (BEWEEG OP MIK, VROLIK) Haai, julle! Hoe gaan dit met almal?
2. GRETHE : (AFGETROKKE) Haai, Jessica.
3. THOMAS : (PROBEER KOEL KLINK) Haai, hoesit?
4. MELISSA : (VAN AGTER BALKONDEUR) Jessica! My gunsteling-sportredakteur. Hallo!
1. JESSICA : Gaan ek julle pla as ek hier sit en my onderhoud voer?
2. GRETHE : Natuurlik nie. Dis waarvoor die kantoor hier is. (HARDER) Melissa, kan jy onthou hoe lank Instandhouding laas gevat het om hier uit te kom?
3. MELISSA : Praat sy met my? Ek wil niemand bykom nie! Wel, net daai professor.
4. JESSICA : Ek voel asof ek iets gemis het.
5. THOMAS : Melissa sit op die balkon vas.
6. JESSICA : Ag, hel. Not again.
7. THOMAS : Is ek die enigste een wat nie geweet het die deur lol nie?
8. JESSICA : Jy’s duidelik te min hier, Thomas.
9. THOMAS : Ja, lyk my dis waar die aksie is.
10. JESSICA : Hier’s altyd ’n oop lessenaar as jy iewers nodig het om te werk.
11. GRETHE : (GEïRRITEERD) Thomas, hoe ver is jy met daai stuk van jou?
12. THOMAS : Hmm? O, ja. Amper klaar, Grethe.
13. GRETHE : Minder as vier ure oor, en die sub moet nog daardeur lees.
14. THOMAS : Uhm, ek weet nie of dit nodig is nie.
15. GRETHE : Almal het ’n sub nodig, Thomas.
BYK : GELUID VAN SKARE KOM UIT DIE VERTE UIT NADER.
1. MELISSA : (VAN AGTER BALKONDEUR) Julle, daar loop ’n klomp mense hier onder rond. Dink julle daar’s iets aan die gang?
2. JESSICA : Gaan die rektor omgee as ek meer as drie vrae vra? Haar sekretaresse was so streng.
3. THOMAS : Jy kan seker ’n ekstra vragie inkry as jy vriendelik genoeg is.
4. GRETHE : Sterkte. Sy’s nie die geduldigste mens wat ek al ontmoet het nie.
5. THOMAS : Hoekom voer jy in elk geval met haar ’n onderhoud? Is sy ’n groot sportaanhanger?
6. JESSICA : (LAG) Nee. Ek bedoel ek weet nie, maar die storie gaan oor die nuwe swembad wat uiteindelik klaar is. Wel, amper klaar. Daar’s nog nie water in nie.
7. THOMAS : Dit klink ... interessant.
BYK : SKARE WORD IN AGTERGROND GEHOOR.
8. MELISSA : (OPGEWONDE VAN AGTER BALKONDEUR) Julle, hier kom al hoe meer mense! En ek dink hulle het plakkate! (HARD, AAN SKARE) Hei! Hallo! Ekskuus tog, waaroor betoog julle?
9. JESSICA : Moenie lag nie! Dit ís interessant!
10. GRETHE : Jessica is baie opgewonde oor die nuwe swembad.
11. JESSICA : Dit was veronderstel om verlede jaar al klaar te wees! Dis ’n groot oomblik, oukei.
12. THOMAS : Ek is baie bly vir jou. En die onderhoud met die rektor ...?
13. JESSICA : Dis haar troetelprojek. Sy’t ingegryp toe sy agterkom dinge sloer.
14. GRETHE : (BESEF SKIELIK IETS) Wag. Jessica ... Jy’t ’n onderhoud met die rektor.
15. JESSICA : (BEGRYP NIE) Ja ... Dis waaroor ek nog die heeltyd praat.
1. GRETHE : Jy’t ’n onderhoud met die rektor! (HARDER) Melissa! Jessica het ’n onderhoud met die rektor!
2. MELISSA : Wat? Jessica het ’n ooraktiewe wekker?
3. THOMAS : (HARD) ’n Onderhoud met die rektor!
4. MELISSA : (OPGEWONDE) Wat!? Dis perfek! Laat ek met haar praat! (RUK AAN DEUR.)
5. JESSICA : Uhm, hoekom probeer Melissa die deur afbreek?
6. GRETHE : Sy’t ’n skinderstorie gehoor wat sy moet bevestig voor dit ’n nuusstorie kan word.
7. THOMAS : Sy wil jou onderhoud kaap.
8. JESSICA : Wat!? Nee! Die swembad!
9. MELISSA : (RUK STEEDS AAN DEUR) Help my met hierdie deur!
10. GRETHE : Jessica, ek is seker ons kan aan ’n manier dink om dit vir julle albei te laat uitwerk.
BYK : MUSIEK DOOF NA AMANDA SE KANTOOR. MIDDAG. DIE SKARE KAN IN DIE VERTE GEHOOR WORD.
11. AMANDA : Terrence? Terrence!? Wat de hel is daai geraas? Terrence!
BYK : LANDLYN LUI.
12. AMANDA : Terrence! Die foon! Terrence! Ag, verdomp. [SY TEL DIE GEHOORSTUK OP, SKIELIK BAIE MEER AANGENAAM] Hallo, Amanda van Staden, Studentesake; hoe kan ek help? [LUISTER] Ja? Ek hou aan. [POUSE] Goeie—. [POUSE] O, genade! Regtig? Ek stem saam, Professor. Absoluut. Ja, natuurlik. [POUSE] Ek maak so. Ja, dadelik. Tot siens, Professor. Dankie vir die b—. [GOOI GEHOORSTUK NEER] Koei. Terrence!
1. TERRENCE : [INTERKOM, FILTER] Ja, Amanda?
2. AMANDA : Waar de hel was jy? Die foon het gelui!
3. TERRENCE : En ...?
4. AMANDA : En jy weet ek haat dit om die landlyn te gebruik! Dit laat voel my soos my ma!
5. TERRENCE : Jou ma’t verlede week ’n e-pos gestuur om my met my verjaardag geluk te wens. Sy klink so nice.
6. AMANDA : Wat? Simpel ou vrou. Dit was nie verlede week jou verjaardag nie.
7. TERRENCE : Uh, dit w—.
8. AMANDA : Terrence, hier’s moeilikheid.
9. TERRENCE : Waarmee kan ek help?
10. AMANDA : Kan jy van ’n studenteprotes ontslae raak?
11. TERRENCE : Nie wettig nie, nee. Enigiets anders?
12. AMANDA : Terrence, die rektor het sopas gebel en my uitgetrap omdat daar ’n trop studente is wat die ingang tot haar gebou versper. Ek het ’n oplossing nodig, Terrence.
13. TERRENCE : Hoekom het die rektor jóú gebel?
14. AMANDA : Wat? Hoekom nie? Wat probeer jy sê?
15. TERRENCE : Dis net ... [SPARTEL] Dis nie asof jy die ... Ek bedoel, is dit regtig jou afdeling? Crowd control?
16. AMANDA : Terrence.
17. TERRENCE : [BANG] Ja?
18. AMANDA : Briljant.
19. TERRENCE : Is ek?
1. AMANDA : Bel vir Kampusveiligheid. Sê die optog is nou húlle probleem. Briljant. Ek is só bly ek het daaraan gedink.
BYK : DOOF NA SKAREGELUID. STUDENTEBETOGING, BUITE. MIDDAG. DOOF NA KOERANTKANTOOR.
2. JESSICA : Dis mý onderhoud!
3. GRETHE : En mý leë voorblad.
4. THOMAS : Grethe, dink jy nie (dis onregverdig nie)?
5. GRETHE : Dis my besluit, Thomas. Jessica, jy gaan steeds die onderhoud voer.
6. JESSICA : Gaan ek?
7. GRETHE : Ja. Jy gaan net ’n paar nuwe vrae vra.
8. JESSICA : As ek skielik wegval met vrae oor die een of ander skinderstorie, kry ek nooit my swembad-artikel geskryf nie!
9. GRETHE : Ons sal jou help. Ons kan met ander bronne gesels.
10. JESSICA : Maar daar is nie ’n beter bron as die (rektor nie)!
11. THOMAS : Jessica, dink daaraan as ’n ... uhm, jy weet as ’n sokkerspeler in die laaste vyf minute iemand platduik om te keer dat hy ’n doel kry, al beteken dit hy word dadelik afgestuur? Maar dis die moeite werd, want hy doen dit vir die span?
12. JESSICA : Is dit ... Probeer jy ’n professional foul verduidelik?
13. GRETHE : Presies!
14. THOMAS : Ja!
15. JESSICA : So julle wil hê ek moet die rektor tackle, al beteken dit my lewe gaan baie moeiliker wees?
16. GRETHE : By wyse van spreke, ja.
1. JESSICA : Thomas, ek is beïndruk met jou sokkerkennis.
2. THOMAS : Ha, nie gedink ek sal weet van executive fouls nie, nè?
3. JESSICA : Professional fouls.
4. THOMAS : O. Ja, dit.
5. JESSICA : (MET ’N SUG) Oukei, so wat is die vreeslik belangrike skinderstorie?
6. GRETHE : Onthou jy die storie oor Professor Meyer en die nagraadse assistent?
7. JESSICA : Moenie vir my sê dis waar nie!
8. THOMAS : Dit is.
9. GRETHE : Dis nie net waar nie; hy’t ook departementele geld gesteel en vir haar gegee.
10. THOMAS : Na bewering.
11. MELISSA : Wat praat julle daarbinne!?
12. THOMAS : (HARD) Ek sê na bewering, Melissa!
13. MELISSA : Ek is nie bewerig nie; ek wil net weet wat die storie is! (RUK WEER AAN DEUR.) Vind uit hoekom almal betoog! Hulle kan my nie hoor nie!
BYK : DOOF NA AMANDA SE KANTOOR. TV-SEPIE IN DIE AGTERGROND.
14. TERRENCE : [INTERKOM, FILTER] Amanda, ek het ’n verteenwoordiger van die Studenteraad op die lyn.
15. AMANDA : [DRUK KNOPPIE] Nee, dankie.
16. TERRENCE : Dit gaan oor die betoging. Ek dink dit sal help as jy na hulle luister.
17. AMANDA : Dis nie nou die beste tyd nie! Josh gaan binne die volgende vyf minute vir Annabelle sê hy’s eintlik haar man se tweelingbroer. Dis reg so, Josh; verpletter haar. [POUSE] Daar staan in elk geval nêrens in my posbeskrywing dat ek na studente moet luister nie, Terrence.
1. TERRENCE : Die ... die posbeskrywing vir jou werk by Studentesake stipuleer nie dat jy met studente hoef te praat nie?
2. AMANDA : [GEFRUSTREERD] Ugh! Fine! Ek haat dit as jy so tegnies raak. Sit hom op die lyn.
3. TERRENCE : Haar.
4. AMANDA : Whatever.
BYK : OPROEP WORD DEURGESIT. AMANDA LIG DIE GEHOORBUIS.
5. AMANDA : [OPGEWEK] Hallo ... Student! Waarmee kan ek help?
6. CINDY : [FILTER] My naam is Cindy en ek is op die SR.
7. AMANDA : Veels geluk, Cindy! Ons is almal baie trots op jou, hoor.
8. CINDY : [FILTER] Ek sou die sarkasme los as ek jy was, Tannie.
9. AMANDA : Ekskuus tog?
10. CINDY : [FILTER] Ons weet presies wat by hierdie universiteit aangaan, en dit help nie julle stuur mans in uniforms om ons te kom intimideer nie! Dit gaan nie werk nie!
11. AMANDA : Die mans en hul uniforms is daar om julle te beskerm, Cindy-tjie. Sê nou maar die betoging ruk handuit en julle begin onder mekaar baklei?
12. CINDY : [FILTER] Ek dink nie jy verstaan nie. Die Burger is op pad. eTV is op pad! Daai ou met die deurmekaar hare wat op YouTube uitsaai, is op pad! Hulle gaan vandag seker maak die hele wêreld weet wat hier aangaan!
1. AMANDA : [PROBEER ALLES UITSTRYK] Luister, jammer as ek ’n bietjie onbeskof was. Lang week, jy weet. [LAG] Maar ek dink julle maak ’n bohaai oor niks. Andries Meyer is nie die eerste professor wat al ooit by sy assistent ingetrek het nie!
2. CINDY : Wat?
3. AMANDA : Die geld was ’n verrassing; dit gee ek toe, maar kan jy hom regtig kwalik neem? Hulle verdien nie baie nie, shame. En wat sou die wiskundedepartement in elk geval met R500 000 doen? Nuwe liniale koop? [LAG]
4. CINDY : [POUSE] Waarvan praat jy?
5. AMANDA : [POUSE] Waarvan praat jý?
6. CINDY : Van die bedreigde paddas by die nuwe swembad.
7. AMANDA : Die ... die bedreigde paddas. [SWAK] Ek sien.
8. CINDY : Maar jou ding is báie beter! Dankie [WEG] Lindy! Bring daai kamera hiernatoe! Jy gaan nie gló wat ek nou net gehoor het nie!
9. AMANDA : Nee, wag! Hei!
BYK : OPROEP WORD BEËINDIG.
10. AMANDA : Oeps. [HARD] Terrence!
BYK : DOOF NA KOERANTKANTOOR. SKARE WORD HARDER GEHOOR.
11. MELISSA : [KLAP TEEN BALKONDEUR] Julle! Hulle sing nou iets oor paddas! En ’n swembad? Paddas in die swembad? [NEURIE SAAM] Wag, nou’s daar iets oor ’n professor en ’n padda in die swembad ... [SING SAAM] ‘Die proffie wou gaan opsit by sy nooi en haar pad—’ Hei! [POUSE] Dis ... Nogal catchy.
1. THOMAS : Is julle seker sy’s oukei?
2. JESSICA : Dis nogal warm daar buite. Hittesteek?
3. GRETHE : Fokus, julle. Ons het nie nou tyd vir kinderliedjies nie.
4. MELISSA : [VAN AGTER DEUR] Hier kom die polisie, julle! [AAN BETOGERS] Hei! Hei! Hou op sing en kyk agter julle! Dis die polisie!
5. JESSICA : Oukei, voor Melissa ’n beroerte kry: Wat moet ek vra? Ek praat gewoonlik net oor tellings en taktieke.
6. GRETHE : (SKRYF IETS NEER.) Hier, ek het vir jou ’n paar idees.
7. JESSICA : Uhm, oukei. Gaan sy sulke vrae beantwoord?
8. THOMAS : As sy weier, sê ons sy wou nie kommentaar lewer nie. Dit sal haar nie besonder goed laat lyk nie.
9. MELISSA : (RUK WEER AAN DIE HANDVATSEL) Donnerse deur! Oukei, Jessica, luister na my: Dis van kardinale belang dat jy my met die rektor laat praat.
10. THOMAS : Toemaar, Melissa, Jessica weet wat om te doen.
11. MELISSA : Huh?
12. GRETHE : Sy’s bereid om een vir die span te vat.
13. MELISSA : ’n Slang op die mat!? Die spinnekop was erg genoeg. Ek bedank!
14. THOMAS : Uhm ...
15. GRETHE : Toemaar, sy bedank twee keer per week. Dit hou nooit langer as ’n halfuur nie.
16. JESSICA : Oukei, waar’s die foon? Ek moet nou bel. (DRUK NOMMER OP LANDLYN.)
17. GRETHE : (HARD) O, Melissa, wat’s die storie toe met die betogers?
1. MELISSA : Hmm?
2. THOMAS : Die betogers!
3. MELISSA : Ek sê dan daar’s ’n padda in die swembad! En dalk ’n professor ook. Ek’s nog nie seker oor die details nie. Dalk ’n opsie vir bladsy twee, onderaan.
4. THOMAS : ’n Professor in die swem— Wag, wat’s die kanse ...? Uhm, klink dit vir julle ook asof—
5. GRETHE : (DRINGEND) Jy’s reg! Jessica, wag! Die professor is nou in die swembad— (BREEK AF)
6. JESSICA : (OP FOON) Hallo? (LUISTER) Ja, ek sal aanhou. [AAN GRETHE, FLUISTEREND] Wat?
7. GRETHE : Die professor wat die geld gesteel het, het in die swembad gespring!
8. JESSICA : Maar daar is nog nie ’n swembad nie! Ek meen, daar is! Maar daar’s nie water in nie!
9. THOMAS : Presies! Dit beteken ...
10. JESSICA : Ag, nee!
11. GRETHE : Hel. Ek weet hy’t ’n paar foute gemaak, maar ...
12. JESSICA : Ek dink nie ek kan dit doen nie, julle! Dis te verskriklik! [LUISTER] Damn it, hier kom sy!
13. MELISSA : Wat gaan aan? Ek voel uitgesluit.
14. JESSICA : (OP FOON, SENUWEEAGTIG) Goeiemiddag, Professor. Baie dankie dat u bereid is om met my te gesels. Ek ... (HUIWER.)
15. THOMAS : (FLUISTER) Onthou die executives, Jessica! Die executives!
16. GRETHE : Ons is hier om jou te help! Niks sal verkeerd loop nie.
1. JESSICA : [ASEM IN] Ek wil u graag uitvra oor die gerugte rondom Professor Meyer se onlangse gedrag. En, uh, die swembad en die, uh, paddas, en hoe Professor Meyer in die swembad beland het. [LUISTER] In die swembad. [LUISTER] Sê weer?
BYK : TEMAMUSIEK.